niedziela, 18 maja 2008

Hamburg is met 'n oppervlakte van 755,264 vierkante kilometer en 'n bevolking van 1 766 156 mense (2007) die tweede grootste stad in Duitsland na Berlyn en sy belangrikste hawe, wat op een na ook die grootste in Europa en die negende grootste ter wêreld is. Hamburg is die sesde grootste stad in die Europese Unie en een van die welvarendste in Duitsland. Hamburg toon die vinnigste bevolkingsgroei van alle Duitse metropole.

Die amptelike naam van die stad, Freie und Hansestadt Hamburg ("Vrye en Hansestad Hamburg") verwys na sy lidmaatskap in die middeleeuse Hanseatiese Bond van stede en sy besondere status as stadstaat en een van Duitsland se sestien deelstate (Bundesländer).

Die stadstaat en administratiewe gebied van Hamburg het 'n oppervlakte van 750 vierkante kilometer en 1,8 miljoen inwoners, terwyl 'n bykomende 750 000 mense in die voorstede woon. Die metropolitaanse gebied van Hamburg (Metropolregion Hamburg) sluit gebiede van die aangrensende deelstate Sleeswyk-Holstein en Nedersakse in, met 'n oppervlakte van 18 100 vierkante kilometer en sowat vier miljoen inwoners.

Hamburg lê teen drie riviere, die Alster, Bille en Elbe. Eersgenoemde vorm twee kunsmatige mere, die Binne- en Buite-Alster (Binnenalster en Außenalster), wat in die hart van die middestad lê.

Drie klein eilande in die Noordsee, sowat 100 kilometer noordwes van Hamburg, maak eweneens deel uit van die stadstaat: Neuwerk, Scharhörn en Nigehörn.

Brak komentarzy: